Voila! Die blou boek het opgedaag, got the picture to prove it, en soos gewoonlik ervaar ek `n mengelmoes van verligting en trots en iets vreemder, amper `n soort antiklimaks. All that for this?! Amper 2 jaar van pyn en lyding vir so `n eenvoudige voorwerp van papier. So `n brose ding bly `n boek darem. Gooi dit in `n vuur en poef, net as en rook bly oor.
Nee, ek`s nie swartgalllig nie, eintlik nogal heel opgewonde. Dis net, wel, soos dit is. 'Vergeet van Mao se Klein Rooi Boekie', het ek gister op my Facebook-groep se muur gespog. `Koop eerder Marita se Groot Blou Boek.' Eben vandie uitgewer se bemarkingspan praat van die blou golf wat die land gaan tref. Mog het troffe, prewel ek in my binneste. Mog het troffe!
Maar daar`s mos altyd ook `n bietjie ongeluk by die geluk - anders was ons seker klaar in die hemel? - en hierdie keer is dit `n staking by die drukkery. Wat beteken die boek is nie die naweek in die winkels soos beplan nie, maar eers teen volgende naweek. Wanneer my SA promosietoer reeds aan die gang sal wees! En die vertaling sal eers op 8 Oktober beskikbaar wees! Drat en zut en verdomp. Maar nou ja, help nie ek ontstig my daaroor nie, woon gelukkig al lank genoeg in die staakmal Frankryk om te verstaan van stakings. Que sera sera?